Lekker Kossies op die maklike manier

Januarie 27, 2009

Pannekoek

Filed under: Fillings, Goedkoop, Maalvleis, Nagereg, Pannekoek, Tips — Dellie @ 1:48 nm

Dit reën nogsteeds, OK? En natuurlik moet pannekoek ook op die lysie wees. Hierdie is die enigste ene wat ek ken. Vermeerder soos wat dit vir jou mense nodig is – die ene lewer so 20 lekker groot pannekoeke.

3 koppies koekmeel

2 knippies sout

2 teelepels bakpoeier

4 koppies water

2 eiers

3 teelepels asyn

6 teelepels olie

Sif die droë bestanddele drie maal saam (dit help glo dat die pannekoeke nie te swaar is nie, en ek sif dit nou al vir 20 jaar 3x!) en maak ‘n holte in die die meelmengsel.

Meng die water, eier, asyn en olie en voeg geleidelik by die meelmengsel terwyl jy dit meng met ‘n houtlepel of elektriese klitser. Laasgenoemde is baie minder moeite. Laat minstens ‘n halfuur staan (ek laat dit sommer ‘n uur staan) en klits dan weer voordat die pannekoeke gebak word.

Ek gebruik ‘n koperboom pan vir my pannekoeke. Maak seker dit is lekker warm. Vir die eerste ene, gooi ek bietjie olie in die pan, maar rerig BAIE min. Daarna het ek ‘n stukkie servet of tissue wat ek in die olie (in ‘n koppie) druk en dan vee ek net die pan daarmee voordat ek ‘n soplepel vol beslag daarin gooi. Die eerste twee flop gewoonlik omdat ek nie die pan kans gee om behoorlik warm te word nie. Geduld werk nie hier nie.  Maar die worsies geniet die floppies!

Hier is ‘n paar ander wenke ook:

  • Klop of klits die beslag deeglik om al die klonte op te los. Laat die beslag minstens ‘n halfuur lank staan sodat die meelkorreltjies ‘n kans kan kry om lekker sag te word. Dan is jou pannekoeke heerlik lig.
  • As pannekoeke by die groot maat gemaak word, kan 25 ml brandewyn of 50 ml suurlemoensap by ‘n mengsel van 2 kg koekmeel gevoeg word. Dit hou die pannekoeke sag.
  • Die beslag kan ook oornag in die yskas gebêre word. Rou beslag kan goed bevries word vir sowat 3 maande.
  • Bevries gaar pannekoeke met lae plastiek tussenin.
  • Gebruik water of om die helfte sodawater om lekker ligte pannekoeke te maak. Melk is geneig om dit taai te maak.
  • Smeer die pan net elke keer liggies met olie. ‘n Piering/koppie olie en ‘n bol opgefrommelde kombuispapier sal goed werk.
  • Die pan moet goed warm wees voordat die beslag ingegooi word. Gebruik ‘n soplepel om elke keer dieselfde hoeveelheid beslag in die pan te gooi.
  • Kantel die pan heen en weer om die beslag eweredig te versprei.
  • ‘n Dun beslag lewer dun pannekoeke. Die beslag sal effens verdik as dit oornag in die yskas gebêre word. Voeg dan net ‘n bietjie water by en klits weer voordat die pannekoeke gebak word.
  • Hou pannekoeke warm deur dit opmekaar te stapel en die houer oor kookwater te plaas. In die oond of lou oond sal die pannekoeke taai word.

Jy kan natuurlik jou pannekoeke vul met enige ding wat lekker is. Kaneelsuiker en stroop in vir my bo aan die lys vir pure lekkerte.

‘n Mince-mengsel (selfs kerrie as jy wil) werk wonderlik om dit in ‘n ete te omskep. Vul die pannekoeke met jou vleismengsel, pak dit in’n oondbak en strooi gerasperde kaas oor, bak vir so 10 minute, en jy het ‘n lekker ete. Met roomys en piesangskywe vir ‘n nagereg is uit die boeke uit. Gaan mal! Die moontlikhede is eindeloos.

Plaatkoekies

Filed under: Plaatkoekies — Dellie @ 12:38 nm

Hierdie is nog ‘n lekker ene vir reëndae.

2 koppies koekmeel

4 teelepels bakpoeier

halwe teelepel sout

3 teelepels suiker

2 eiers

1 en ‘n halwe koppie melk

6 teelepels gesmelte botter of olie

Sif die droë bestanddele saam. Klits die melk, eiers en gesmelte botter/olie saam. Voeg by die droë bestanddele en meng tot ‘n redelike stywe deeg, amper so dik soos room. Skep lepels vol op ‘n gesmeerde pan of ysterplaat. ‘n Braaipan werk baie goed hiervoor, want jy kan so vier of meer op ‘n slag doen. Bak tot gaar aan albei kante, dit gebeur baie vinnig. Bedien warm met stroop of kaas of enige lekker konfyt van jou keuse.

Pure lekkerte! Veral as die stroop afdrup tot op jou ken… :lol:

Sop vir reëndae

Filed under: Beesvleis, Een-bak-geregte, Goedkoop, Skaap, Sop, Vark — Dellie @ 12:24 nm

Dit reën al van gistermiddag af by ons. Net sulke kort, droeë stukkies tussen in. En as dit reën, soek ek sop of pannekoek of vetkoek of plaatkoekies of al die bogenoemde. Hier is ‘n maklike sopresep, en dis gewoonlik ‘n treffer. Hier moet jy maar hoeveelhede skat vir die magies wat jy wil volmaak.

‘n Lekker groot pot, verkieslik met ‘n swaar bodem, dit kook net eenvoudig lekkerder

Vleis – min of meer 500g (ek verkies om skaapskenkels/shortrib en varkskenkels te kombineer) Sopbene met daai lekker murg in kan ook bygevoeg word (braai dit ook, ja!)

Olie vir braai

Kookwater

2 Uie fyn gekap

2 Tamaties fyn gekap

2 Aartappels gerasper

3 Wortels gerasper

so 2 koppies boontjies fyn gekerf

Jy kan eintlik maar enige groente van jou keuse gebruik

Sout en peper na smaak

Tamatie pasta/sous

Blatjang

1 pakkie 2 minute noodles of ‘n handvol macaroni of spaghetti (klein gebreek)

Enige pakkie sop van jou keuse – ek verkies bruin uie of mushroom sop

Geur die vleis met sout en peper en braai in net genoeg olie om die bodem van die pot te bedek. Dit gee so ‘n lekker geurtjie aan die sop. Skep die vleis uit en dreineer die olie. Gooi dan die vleisies weer terug in die pot, en bedek met kookwater. Kook vir minstens ‘n uur todat alles lekker sag is. Hou die water dop en vul gereeld aan. Hoe langer dit kook, hoe beter eintlik. As ek sop maak, maak ek sop, nie stew nie. Alles moet fyn wees.

Voeg die uie, tamaties, wortels, aartappels en boontjies by. Kook vir nog ‘n halfuur. Gooi tamatiepasta of sous, en blatjang by na smaak. Maak die pakkie sop aan met ‘n bietjie koue water, en voeg by.  Ook nog sout en peper as dit nodig is. Proe! Dis die enigste manier om agter te kom of nog iets kort.

Laat dit prut vir nog 20 minute of totdat die groente lekker sag is. Gooi laaste die noodles of pasta by, en prut tot dit ook sag is. Gedurende die hele proses kan jy water bygooi tot die sop so dik of dun is soos jy verkies.

Smeer ‘n paar broodjies, en roep die hongeres!

Blog at WordPress.com.