Lekker Kossies op die maklike manier

Januarie 27, 2009

Sop vir reëndae

Filed under: Beesvleis, Een-bak-geregte, Goedkoop, Skaap, Sop, Vark — Dellie @ 12:24 nm

Dit reën al van gistermiddag af by ons. Net sulke kort, droeë stukkies tussen in. En as dit reën, soek ek sop of pannekoek of vetkoek of plaatkoekies of al die bogenoemde. Hier is ‘n maklike sopresep, en dis gewoonlik ‘n treffer. Hier moet jy maar hoeveelhede skat vir die magies wat jy wil volmaak.

‘n Lekker groot pot, verkieslik met ‘n swaar bodem, dit kook net eenvoudig lekkerder

Vleis – min of meer 500g (ek verkies om skaapskenkels/shortrib en varkskenkels te kombineer) Sopbene met daai lekker murg in kan ook bygevoeg word (braai dit ook, ja!)

Olie vir braai

Kookwater

2 Uie fyn gekap

2 Tamaties fyn gekap

2 Aartappels gerasper

3 Wortels gerasper

so 2 koppies boontjies fyn gekerf

Jy kan eintlik maar enige groente van jou keuse gebruik

Sout en peper na smaak

Tamatie pasta/sous

Blatjang

1 pakkie 2 minute noodles of ‘n handvol macaroni of spaghetti (klein gebreek)

Enige pakkie sop van jou keuse – ek verkies bruin uie of mushroom sop

Geur die vleis met sout en peper en braai in net genoeg olie om die bodem van die pot te bedek. Dit gee so ‘n lekker geurtjie aan die sop. Skep die vleis uit en dreineer die olie. Gooi dan die vleisies weer terug in die pot, en bedek met kookwater. Kook vir minstens ‘n uur todat alles lekker sag is. Hou die water dop en vul gereeld aan. Hoe langer dit kook, hoe beter eintlik. As ek sop maak, maak ek sop, nie stew nie. Alles moet fyn wees.

Voeg die uie, tamaties, wortels, aartappels en boontjies by. Kook vir nog ‘n halfuur. Gooi tamatiepasta of sous, en blatjang by na smaak. Maak die pakkie sop aan met ‘n bietjie koue water, en voeg by.  Ook nog sout en peper as dit nodig is. Proe! Dis die enigste manier om agter te kom of nog iets kort.

Laat dit prut vir nog 20 minute of totdat die groente lekker sag is. Gooi laaste die noodles of pasta by, en prut tot dit ook sag is. Gedurende die hele proses kan jy water bygooi tot die sop so dik of dun is soos jy verkies.

Smeer ‘n paar broodjies, en roep die hongeres!

Januarie 20, 2009

Bobotie

Filed under: Beesvleis, Dieet kos, Een-bak-geregte, Maalvleis, Rys, Slaai, Vark, Vis — Dellie @ 10:33 vm

Dis ene wat ek al vir baie jare maak, en die bonus is, dat dit soort-van ‘n lae-vet-gesonde-weigh-less gedoente is. Niks oordadigs nie, en bestanddele wat maklik en goedkoop is om te bekom, as jy dit nie alreeds in jou koskas het nie.

Die geheim (dink ek) van Bobotie, is daai speserye wat jy eerstens moet “braai” en “gaarmaak” voordat jy iets anders doen.

So kry die volgende in ‘n koppie bymekaar:

2 teelepels gemmer

2 teelepels borrie

2 – 3 teelepels suiker (kunsmatige versoeter)

2 teelepels sterk kerrie poeier

1 teelepel sout

vargemaalde swart peper na smaak (ons hou van hoe meer, hoe beter kom die smaak uit)

Genoeg olie om die bodem van die pan te bedek. me/ fluister…”Dit beteken so min as moontlik… “

2 Uie (sommer grof gekap, so vinnig soos wat jy kan sonder om ‘n vinger te verloor…)

Maalvleis – so 500g sal die ding doen vir 6 magies van gemiddelde porsies (of enige ander vleisies of oorskiet, so maer as moontlik, maar selfs bullybeef of tuna sal doen as dit al is wat jy het – verminder dan net jou sout na ‘n halwe teelepel)

‘n Handvol rosyntjies

2 snye brood, in melk of water geweek

2 teelepels tamatie pasta / 4 eetlepels tamatiesous doen ook die ding

2 teelepels woestersous

2 eetlepels appelkooskonfyt of fyngemaakte, ingelegde appelkose

2 eiers

250 ml melk (lae vet)

Gooi al die speserye in ‘n pan, en maak dit lekker warm. Totdat dit so effens begin rook en die geur vrygestel word.

Gooi dan die bietjie olie daarby, meng deur, en gooi die uie by. Dit gaan nie vreeslik braai nie, roer dit maar so effens rond vir ‘n paar minute. Gooi dan die maalvleis by, en roer tot bruin en krummelrig. Dan kom die res van die bestanddele, behalwe die eiers en melk by. Laat die hele spulletjie prut vir 20 minute. Hou dit dop, daar moenie te veel vloeistof in wees nie, maar dit brand maklik vas.

Smeer of spuit ‘n dieperige oondbak. Gooi die vleismengsel daarin. Gooi die geklitste eiers en melk bo-oor (oor die agterkant van ‘n lepel, dan maak dit nie ‘n dammetjie in die vleis nie). Pak ‘n paar lourier of suurlemoen blare bo-op. Bak in die oond teen 180 grade vir 40-45 minute. Hou dit maar dop, as dit mooi bruin en gestol is bo-op, is dit gaar.

Sit voor saam met geelrys en tamatieslaai.

Januarie 14, 2009

Ta-daaaa!

Filed under: Beesvleis, Dieet kos, Drankies, Hoender, Koek, Maalvleis, Nagereg, Pap, Pasta, Skaap, Slaai, Tert, Tips, Vark, Vis — Dellie @ 11:25 vm

Binnekort behoort hierdie blog gevul te wees met heerlike, maklike en ekonomiese resepte. Ek soek daai kossies wat ons elke aand vinnig vir ons mense aanmekaarslaan. Sommer met ‘n handvol van die en ‘n knippie van daai. En veral daai lekkertes wat gebore word as die eggo’s in die koskaste beginne weerklink!

As jy ietsie het om te deel met die res van ons, stuur dit asseblief vir my na homedotwelkomatgmaildotcom. Onthou, MAKLIK en VINNIG en GOEDKOOP. Met bestanddele wat maklik bekombaar en maklik is om uit te spreek!

GO! GO!

NS. Ek sukkel nog met die posts – dit wil nie vir my die hele toolbar oopmaak soos op my ander blog nie, so die formatting suig nog. Geduld asseblief!

NNS. Die formatting suig toe nie so erg soos ek verwag het nie – eintlik cool saam met die Piesang drankie! :mrgreen:

Blog at WordPress.com.