Lekker Kossies op die maklike manier

Julie 28, 2009

Maklike hoender gereg

Filed under: Een-bak-geregte, Ekonomies, Goedkoop, Hoender, Kinders hou van, Maklik, Vinnig — Dellie @ 6:48 nm

Kook 1 x hoender met 2 hoenderaftreksel blokkies
2.5 ml naeiltjies (1/2 t)
2.5 ml tiemie
2.5 ml sout tot gaar

Sny in stukke, meng met die volgende:

400 g Blikkie sampioensop
250 ml Suurroom
1 pak Bacon Kips

Plaas in matige oond vir 20 min

(Hoenderdye of -boudtjies kan ook gebruik word.  En die naeltjies is opsioneel)

Bedien met rys en groen slaai.

Lekker eet

Jane

Julie 16, 2009

Spinasie tert

Filed under: Een-bak-geregte, Goedkoop, Groente, Tert, Vinnig, Vullend — Dellie @ 5:33 nm

Hierdie gereg is nie net heelik vir n laat ontbyt nie – saam met n bak slaai ook n lekker ligte ete

Genoeg vir 8 tot 10 persone
Bereidingstyd: 15 minute
Baktyd: 1 uur
Oondtemperatuur: 180c

Kors
60 ml (60gr) botter gesmelt
170ml (90gr) provita beskuitjies gekrummel
100 ml cheddarkaas gerasper

Vulsel
125 gr gesnipperde swoerdlose spek
2 preie in dun skyfies gesny
600 gr vars spinasie wit stingel gedeeltes verwyder
250 gr room kaas
6 groot eiers geklits
250 ml suurroom
1 en n halwe sirkel feta kaas gekrummel
125ml parmesaan kaas gerasper
Sout en peper na smaak

1.  Maak die kors
Meng die botter, koekiekrummels en chedarskaas in n mengbak. Voer n pan uit met die mengsel en sit in die yskas tot benodig.

2.  Maak die vulsel
Braai die spek in hulle eie vet tot net voordit begin bros raak. Skep uit en dreineer op kombuispapier.  Braai die preie in dieselfde pan oor matige hitte tot sag,  Voeg bietjie botter by indien nodig.  Meng die preie en spek en laat die mengsel afkoel.

Was die spinasie goed en dreineer dit. Sit die een helfte van die spinasie net so in n groot kastrol oor magite hitte en roer totdat dit begin sag word.  Herhaal met die res van die spinasie.  Dreineer die gaar spinasie en druk die oortollige vog met jou hande uit sodra dit afgekoel het.  Kap dit fyn.

3.  Klits die roomkaas, eiers en suurrom tot glad, roer die feta kaas by.  Gooi die spinasie, spek en preimengsel en die helfte van die parmesaan by.  Geur met sout en peper.

4.  Skep die mengsel in die voorbereider kors en bak tot goudbruin en gaar.  Laat die tert vir 10 min staan voordat jy dit sny. Strooi die oorblywende parmesaan kaas oor en sit voor!!

Lekker eet

Dankie Suz.

Januarie 27, 2009

Sop vir reëndae

Filed under: Beesvleis, Een-bak-geregte, Goedkoop, Skaap, Sop, Vark — Dellie @ 12:24 nm

Dit reën al van gistermiddag af by ons. Net sulke kort, droeë stukkies tussen in. En as dit reën, soek ek sop of pannekoek of vetkoek of plaatkoekies of al die bogenoemde. Hier is ‘n maklike sopresep, en dis gewoonlik ‘n treffer. Hier moet jy maar hoeveelhede skat vir die magies wat jy wil volmaak.

‘n Lekker groot pot, verkieslik met ‘n swaar bodem, dit kook net eenvoudig lekkerder

Vleis – min of meer 500g (ek verkies om skaapskenkels/shortrib en varkskenkels te kombineer) Sopbene met daai lekker murg in kan ook bygevoeg word (braai dit ook, ja!)

Olie vir braai

Kookwater

2 Uie fyn gekap

2 Tamaties fyn gekap

2 Aartappels gerasper

3 Wortels gerasper

so 2 koppies boontjies fyn gekerf

Jy kan eintlik maar enige groente van jou keuse gebruik

Sout en peper na smaak

Tamatie pasta/sous

Blatjang

1 pakkie 2 minute noodles of ‘n handvol macaroni of spaghetti (klein gebreek)

Enige pakkie sop van jou keuse – ek verkies bruin uie of mushroom sop

Geur die vleis met sout en peper en braai in net genoeg olie om die bodem van die pot te bedek. Dit gee so ‘n lekker geurtjie aan die sop. Skep die vleis uit en dreineer die olie. Gooi dan die vleisies weer terug in die pot, en bedek met kookwater. Kook vir minstens ‘n uur todat alles lekker sag is. Hou die water dop en vul gereeld aan. Hoe langer dit kook, hoe beter eintlik. As ek sop maak, maak ek sop, nie stew nie. Alles moet fyn wees.

Voeg die uie, tamaties, wortels, aartappels en boontjies by. Kook vir nog ‘n halfuur. Gooi tamatiepasta of sous, en blatjang by na smaak. Maak die pakkie sop aan met ‘n bietjie koue water, en voeg by.  Ook nog sout en peper as dit nodig is. Proe! Dis die enigste manier om agter te kom of nog iets kort.

Laat dit prut vir nog 20 minute of totdat die groente lekker sag is. Gooi laaste die noodles of pasta by, en prut tot dit ook sag is. Gedurende die hele proses kan jy water bygooi tot die sop so dik of dun is soos jy verkies.

Smeer ‘n paar broodjies, en roep die hongeres!

Januarie 21, 2009

Stovies

Filed under: Bully beef, Een-bak-geregte, Goedkoop — Dellie @ 4:02 nm

Hierdie is ‘n tradisionele Skotse gereg. Dis seker nie vreeslik gesond nie, maar ideal vir wanneer daar boggerol in die koskaste aangaan.

Uie, so 3 – 4 , maar ek hou nogal van uie, so ek sal nog meer insit.

Knoffel (dis my eie toevoeging, maar ek like dit ook!) So een huisie, fyn gekap

Braai die lotjie in botter/marge (verkieslik nie olie nie, die botter gee ‘n lekker smaak) tot sag.

Boeliebeef 1 – 2 blikkies, opgesny in blokkies.
Roer in saam met die uie en braai dit ‘n rukkie.

Skil aartappels, soveel as wat jy dink genoeg is vir jou mense – dis die aartappels wat hulle gaan dik maak.
Sny in kleinerige blokkies en gooi bo-op die uie-en boeliebeefmengsel.  MOENIE DEURMEKAAR ROER NIE.
Geur met sou en peper.
Gooi ‘n knertsie water by – so 50 ml

Baie NB:  stip met botter/marge  (vader tog, ek dink dis ’stip’, maar gooi oral hier en daar sulke mespunte botter op die aartappels)

Sit deksel op en kook tot gaar.  (ongeveer ‘n uur)  Matige hitte

Die uie en boeliebeef behoort effens aan te brand – dis deel van die lekker. Roer die hele spulletjie deurmekaar en enjoy!

Dankie Boendoe!

Rys Skottel

Filed under: Bully beef, Een-bak-geregte, Goedkoop, Rys — Dellie @ 3:54 nm

Ek weet nie van julle nie, maar die eggo’s begin al weerklink in my koskaste. Gaan altyd so aan die einde van Januarie – veral as mens met vakansie was. Hierdie is rerig ‘n baie ekonomiese resep – en as jy genoeg witsous maak, kan jy omtrent 6 honger magies lekker vol kry.

drie koppies gaar rys

2 uie, in ringe gesny

1 groen soetrissie, in blokkies gesny

olie vir braai

1 blik bullybeef (300g) in blokkies gesny (Enige ander oorskiet vleisie sal ook doen)

2-3 eiers, hard gekook

500 – 750 ml witsous (nie te dik nie)

gerasperde kaas om bo-oor te strooi

Voorverhit die oond tot 180 grade. Smeer/spuit ‘n oondbak. Skep die helfte van die rys in die oondbak. Braai die uie en soetrissie tot sag. Meng met bullybeef. Skep die helfte van die bully beef mengsel oor die rys, gevolg deur ‘n paar eierskyfies. Gooi ‘n lagie witsous oor die eierskyfies. Herhaal die lae, en eindig met witsous en kaas. Verhit tot alles lekker warm is, omtrent so 20 minute.  Genoeg vir 4 – 6 mense.

Stuur bietjie van julle reseppies ook in, asseblief? Los dit sommer in die comments, ek sal dit daarvandaan bewerk tot hier. :wink:

Januarie 20, 2009

Bobotie

Filed under: Beesvleis, Dieet kos, Een-bak-geregte, Maalvleis, Rys, Slaai, Vark, Vis — Dellie @ 10:33 vm

Dis ene wat ek al vir baie jare maak, en die bonus is, dat dit soort-van ‘n lae-vet-gesonde-weigh-less gedoente is. Niks oordadigs nie, en bestanddele wat maklik en goedkoop is om te bekom, as jy dit nie alreeds in jou koskas het nie.

Die geheim (dink ek) van Bobotie, is daai speserye wat jy eerstens moet “braai” en “gaarmaak” voordat jy iets anders doen.

So kry die volgende in ‘n koppie bymekaar:

2 teelepels gemmer

2 teelepels borrie

2 – 3 teelepels suiker (kunsmatige versoeter)

2 teelepels sterk kerrie poeier

1 teelepel sout

vargemaalde swart peper na smaak (ons hou van hoe meer, hoe beter kom die smaak uit)

Genoeg olie om die bodem van die pan te bedek. me/ fluister…”Dit beteken so min as moontlik… “

2 Uie (sommer grof gekap, so vinnig soos wat jy kan sonder om ‘n vinger te verloor…)

Maalvleis – so 500g sal die ding doen vir 6 magies van gemiddelde porsies (of enige ander vleisies of oorskiet, so maer as moontlik, maar selfs bullybeef of tuna sal doen as dit al is wat jy het – verminder dan net jou sout na ‘n halwe teelepel)

‘n Handvol rosyntjies

2 snye brood, in melk of water geweek

2 teelepels tamatie pasta / 4 eetlepels tamatiesous doen ook die ding

2 teelepels woestersous

2 eetlepels appelkooskonfyt of fyngemaakte, ingelegde appelkose

2 eiers

250 ml melk (lae vet)

Gooi al die speserye in ‘n pan, en maak dit lekker warm. Totdat dit so effens begin rook en die geur vrygestel word.

Gooi dan die bietjie olie daarby, meng deur, en gooi die uie by. Dit gaan nie vreeslik braai nie, roer dit maar so effens rond vir ‘n paar minute. Gooi dan die maalvleis by, en roer tot bruin en krummelrig. Dan kom die res van die bestanddele, behalwe die eiers en melk by. Laat die hele spulletjie prut vir 20 minute. Hou dit dop, daar moenie te veel vloeistof in wees nie, maar dit brand maklik vas.

Smeer of spuit ‘n dieperige oondbak. Gooi die vleismengsel daarin. Gooi die geklitste eiers en melk bo-oor (oor die agterkant van ‘n lepel, dan maak dit nie ‘n dammetjie in die vleis nie). Pak ‘n paar lourier of suurlemoen blare bo-op. Bak in die oond teen 180 grade vir 40-45 minute. Hou dit maar dop, as dit mooi bruin en gestol is bo-op, is dit gaar.

Sit voor saam met geelrys en tamatieslaai.

Januarie 16, 2009

Lasagne

Filed under: Een-bak-geregte, Maalvleis, Pasta — Dellie @ 9:27 vm

Lekker lasagne van Boendoe af:

5 ml kookolie
500 g mince
1 pakkie minestrone-soppoeier
1 blik heel geskilde tamaties
30 ml rooiwyn of water
lasagnevelle  (nie daais wat eers gekook moet word nie)
60 ml botter/marge
100 ml koekmeel
570 ml melk
5 ml sout
knypie peper
250 ml gerasperde Cheddar kaas

Verhit olie, braai vleis 10 minute daarin.
Voeg soppoeier, tamaties en hul sap, asook wyn by.
Roer en kook vir 3 – 4 minute.

Smelt botter
Haal van stoof af en roer meel by
Roer melk geleidelik by
Verhit tot kookpunt
ROER AANHOUDEND!
Geur met sout en peper

In ‘n gesmeerde oondskottel:
Sit eers ‘n dun lagie vleismengsel
Dan die lasagnevelle
vleismengsel
witsous
herhaal tot jy eindig met witsous bo-oor
Strooi kaas oor

Verhit oond tot 200 C. Bak tot gaar. Sit voor met slaai

Lewer 4 – 6 porsies.


Januarie 14, 2009

Tunagebak

Filed under: Een-bak-geregte, Rys, Vis — Dellie @ 2:46 nm

OK, hier is my eerste ene. Dis maklik, goedkoop en vullend. Geniet!

Tunagebak

2 uie, fyn gekap

olie

1 0f 2 blikkies tuna, in water (vir die mensies wat dieet)

so twee koppies gaar rys (bruin, wit, of whatever jy in die huis het)

100 – 150 ml mayonnaise (lae vet slaaisous doen ook die ding, maar eish – regte mayonnaisse het net daai ietsie ekstra…)

4 groot eiers

teelepel mosterd poeier of vars mosterd na smaak

4 teelepels suurlemoensap

grootlepel vol gekapte pietersielie, of ‘n teelepel vol gedroogde pietersielie (dis eintlik net vir kleur en geur, so jy kan dit uitlos as jy wil)

sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Gerasperde kaas om bo-oor te strooi.

Maak die oond lekker warm – so  180 grade. Smeer/spuit jou oondpan deeglik, jy willie hê die goed moet vassit nie! Braai die uie in ‘n klein bietjie olie tot sag – dit beteken dit moet net so effens bruin raak. Sny die tuna blikkies oop en dreineer die olie/water. Klits die melk, eiers en mayonnaise saam. Voeg die mosterd, suurlemoensap en pietersielie by. Nou is dit so ‘n lekker dik mengsel. Geur dit na smaak met sout en swartpeper – druk jou vinger in en proe of die sout en peper reg is! Meng die vis-en-rysmengsel in die gesmeerde/gespuite oondpan. En dan gooi jy dit oor die vis-en-rys-mengsel wat jy intussen in die gesmeerde oondpan gemeng het, gooi kaas bo-oor en druk dit in die oond vir 30 minute, of tot jy kan sien dat alles gestol is en mooi bruin is bo-op.

MMM en hoe lank?

Saam met die rys wat gekook moet word, is die ergste wat jy moet doen, uie sny en braai. Van voorbereiding  heel aan die begin, tot eet, neem dit min of meer een uur.  Stuur die kiddies om te gaan bad, en as hulle klaar is, is die kossies ook reg. En uit betroubare bronne verneem ek dat kinders mal is hieroor – met tamatiesous oor!

Blog at WordPress.com.