Lekker Kossies op die maklike manier

Januarie 21, 2009

Rys Skottel

Filed under: Bully beef, Een-bak-geregte, Goedkoop, Rys — Dellie @ 3:54 nm

Ek weet nie van julle nie, maar die eggo’s begin al weerklink in my koskaste. Gaan altyd so aan die einde van Januarie – veral as mens met vakansie was. Hierdie is rerig ‘n baie ekonomiese resep – en as jy genoeg witsous maak, kan jy omtrent 6 honger magies lekker vol kry.

drie koppies gaar rys

2 uie, in ringe gesny

1 groen soetrissie, in blokkies gesny

olie vir braai

1 blik bullybeef (300g) in blokkies gesny (Enige ander oorskiet vleisie sal ook doen)

2-3 eiers, hard gekook

500 – 750 ml witsous (nie te dik nie)

gerasperde kaas om bo-oor te strooi

Voorverhit die oond tot 180 grade. Smeer/spuit ‘n oondbak. Skep die helfte van die rys in die oondbak. Braai die uie en soetrissie tot sag. Meng met bullybeef. Skep die helfte van die bully beef mengsel oor die rys, gevolg deur ‘n paar eierskyfies. Gooi ‘n lagie witsous oor die eierskyfies. Herhaal die lae, en eindig met witsous en kaas. Verhit tot alles lekker warm is, omtrent so 20 minute.  Genoeg vir 4 – 6 mense.

Stuur bietjie van julle reseppies ook in, asseblief? Los dit sommer in die comments, ek sal dit daarvandaan bewerk tot hier. :wink:

Januarie 20, 2009

Bobotie

Filed under: Beesvleis, Dieet kos, Een-bak-geregte, Maalvleis, Rys, Slaai, Vark, Vis — Dellie @ 10:33 vm

Dis ene wat ek al vir baie jare maak, en die bonus is, dat dit soort-van ‘n lae-vet-gesonde-weigh-less gedoente is. Niks oordadigs nie, en bestanddele wat maklik en goedkoop is om te bekom, as jy dit nie alreeds in jou koskas het nie.

Die geheim (dink ek) van Bobotie, is daai speserye wat jy eerstens moet “braai” en “gaarmaak” voordat jy iets anders doen.

So kry die volgende in ‘n koppie bymekaar:

2 teelepels gemmer

2 teelepels borrie

2 – 3 teelepels suiker (kunsmatige versoeter)

2 teelepels sterk kerrie poeier

1 teelepel sout

vargemaalde swart peper na smaak (ons hou van hoe meer, hoe beter kom die smaak uit)

Genoeg olie om die bodem van die pan te bedek. me/ fluister…”Dit beteken so min as moontlik… “

2 Uie (sommer grof gekap, so vinnig soos wat jy kan sonder om ‘n vinger te verloor…)

Maalvleis – so 500g sal die ding doen vir 6 magies van gemiddelde porsies (of enige ander vleisies of oorskiet, so maer as moontlik, maar selfs bullybeef of tuna sal doen as dit al is wat jy het – verminder dan net jou sout na ‘n halwe teelepel)

‘n Handvol rosyntjies

2 snye brood, in melk of water geweek

2 teelepels tamatie pasta / 4 eetlepels tamatiesous doen ook die ding

2 teelepels woestersous

2 eetlepels appelkooskonfyt of fyngemaakte, ingelegde appelkose

2 eiers

250 ml melk (lae vet)

Gooi al die speserye in ‘n pan, en maak dit lekker warm. Totdat dit so effens begin rook en die geur vrygestel word.

Gooi dan die bietjie olie daarby, meng deur, en gooi die uie by. Dit gaan nie vreeslik braai nie, roer dit maar so effens rond vir ‘n paar minute. Gooi dan die maalvleis by, en roer tot bruin en krummelrig. Dan kom die res van die bestanddele, behalwe die eiers en melk by. Laat die hele spulletjie prut vir 20 minute. Hou dit dop, daar moenie te veel vloeistof in wees nie, maar dit brand maklik vas.

Smeer of spuit ‘n dieperige oondbak. Gooi die vleismengsel daarin. Gooi die geklitste eiers en melk bo-oor (oor die agterkant van ‘n lepel, dan maak dit nie ‘n dammetjie in die vleis nie). Pak ‘n paar lourier of suurlemoen blare bo-op. Bak in die oond teen 180 grade vir 40-45 minute. Hou dit maar dop, as dit mooi bruin en gestol is bo-op, is dit gaar.

Sit voor saam met geelrys en tamatieslaai.

Januarie 14, 2009

Tunagebak

Filed under: Een-bak-geregte, Rys, Vis — Dellie @ 2:46 nm

OK, hier is my eerste ene. Dis maklik, goedkoop en vullend. Geniet!

Tunagebak

2 uie, fyn gekap

olie

1 0f 2 blikkies tuna, in water (vir die mensies wat dieet)

so twee koppies gaar rys (bruin, wit, of whatever jy in die huis het)

100 – 150 ml mayonnaise (lae vet slaaisous doen ook die ding, maar eish – regte mayonnaisse het net daai ietsie ekstra…)

4 groot eiers

teelepel mosterd poeier of vars mosterd na smaak

4 teelepels suurlemoensap

grootlepel vol gekapte pietersielie, of ‘n teelepel vol gedroogde pietersielie (dis eintlik net vir kleur en geur, so jy kan dit uitlos as jy wil)

sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Gerasperde kaas om bo-oor te strooi.

Maak die oond lekker warm – so  180 grade. Smeer/spuit jou oondpan deeglik, jy willie hê die goed moet vassit nie! Braai die uie in ‘n klein bietjie olie tot sag – dit beteken dit moet net so effens bruin raak. Sny die tuna blikkies oop en dreineer die olie/water. Klits die melk, eiers en mayonnaise saam. Voeg die mosterd, suurlemoensap en pietersielie by. Nou is dit so ‘n lekker dik mengsel. Geur dit na smaak met sout en swartpeper – druk jou vinger in en proe of die sout en peper reg is! Meng die vis-en-rysmengsel in die gesmeerde/gespuite oondpan. En dan gooi jy dit oor die vis-en-rys-mengsel wat jy intussen in die gesmeerde oondpan gemeng het, gooi kaas bo-oor en druk dit in die oond vir 30 minute, of tot jy kan sien dat alles gestol is en mooi bruin is bo-op.

MMM en hoe lank?

Saam met die rys wat gekook moet word, is die ergste wat jy moet doen, uie sny en braai. Van voorbereiding  heel aan die begin, tot eet, neem dit min of meer een uur.  Stuur die kiddies om te gaan bad, en as hulle klaar is, is die kossies ook reg. En uit betroubare bronne verneem ek dat kinders mal is hieroor – met tamatiesous oor!

Blog at WordPress.com.